PUKU Logo

PUKU

Children's Literature in Southern Africa

Thomas@skaduwee.net

Thomas@skaduwee.net is al die tiende titel in die Thomas@-reeks deur Carina Diedericks-Hugo. Die gewildheid van dié reeks is grootliks toe te skryf aan die realistiese, moderne milieu waarin die verhaal afspeel, die byderwetse taalgebruik en skryfstyl en natuurlik ook die ‘elektroniese’ formaat van die titel, wat alreeds van die rak af roep!

Diedericks-Hugo sê in ‘n LitNet-onderhoud dat sy nog altyd boeke wou skryf wat kinders en jongmense sou wou lees en ook geniet. Dit was nie ‘n doelbewuste besluit om tegnologie as ‘n leitmotief in die reeks te gebruik nie, maar sy het besef dat sy dit onvermydelike sou moes inwerk as sy die ware werklikheidsverstaan van tieners wou vasvang.

Ten opsigte van karakterkeuses is die reeks stewig in die nuwe Suid-Afrika gevestig. Thomas worstel met 'n nuwe ma wat 'n baba verwag. Alex se ma is 'n professor aan 'n universiteit, sy pa is in ‘n rystoel na hy ‘n skietwond tydens ‘n kaping opgedoen het en die bure is ‘n swart paartjie met 'n rekenaar-fundi vir 'n seun en 'n toordokter vir 'n ouma.

Soos die reekstitel, Thomas@, aandui, speel moderne tegnologie 'n sentrale rol in die roman. Thomas is op ‘n baie goor plek in sy persoonlike lewe wanneer hy toevallig hoor hoe twee vreemde mans op die speelgrond planne beraam om wapens van die hawe af deur ondergrondse tonnels te smokkel. Thabo, die rekenaar-fundi, vind uit dat daar inderdaad sulke tonnels onder die stad is en die poppe begin dans. Die verhaal is spannend en word vlot en sonder pretensie vertel in goeie, eietydse Afrikaans.

Dit is ‘n bekende feit dat baie kinders se liefde vir lees by reeksboeke begin. Dink maar aan die Saartjie- en Trompie-boeke van die verlede. Die Thomas@-reeks is regtig cool en sal beslis voldoen aan die vereiste wat die skrywer aan haarself gestel het – dat dit kinders sal aanmoedig om te lees en dat hulle dit sal geniet. Die boek is net die regte medisyne vir 'n geslag kinders wat al hoe minder boeke lees.

CreatedAt
7/27/2017 9:17:39 AM
UpdatedAt
7/27/2017 9:17:39 AM

Back to List