PUKU Logo

PUKU

Children's Literature in Southern Africa

Towertapyt

Towertapyt deur Wendy Maartens is ‘n pragtig geïllustreerde bloemlesing wat klassieke kinderstories van oor die hele wêreld in een publikasie saamvat. Maartens is bekend vir haar vertellings, waarin sy nuwe lewe in bekende en geliefde stories blaas. Die ou verhale in Towertapyt, wat oor die jare heen deur oorlewering aan kinders van alle nasies voorgehou is, of dalk hoogstens in ‘stokkerige’ vertalings gepubliseer was, word in hierdie bundel in ‘n gemaklike verteltrant toeganklik gemaak vir jong Afrikaanssprekende kinders.

Soos gewoonlik wanneer Wendy Maartens iets aanpak, is die onderwerp deeglik nagevors en bied die boek ‘n uitstekende oorsig van kinderstories vanuit al die vastelande en die Britse Eilande. ‘n Gereelde medewerker, illustreerder Johann Strauss, bring sy kant met die kostelike kleurvolle prentjies wat by elke storie en die land se mense pas. Miskien moes die illustrasie by die wilgerpatroon-storie uit China dalk net in wit en blou gewees het – die eerste storie waarheen hierdie leser geblaai het!

Die 32 stories is onder hofies volgens herkoms ingedeel. Uit Europa kom bekendes soos Doringrosie (Frankryk), Die Vuurhoutjie-meisie (Denemarke), Rammetjies Rof (Noorweë) en die bekende Die Bord met die blou Wilgerpatroon uit China. Redelik onbekend vir my was o.a. Mejuffrou Muis se Bruidegom uit Mianmar, Klipberg se Geskenk uit Viëtnam, Die Dag toe Musiek Aarde toe gekom het uit Meksiko en Die Dag toe die Son sy Voete begin sleep het, uit Polinesië.

Die gemaklike verteltrant in eietydse Afrikaans van die eeu-oue stories maak hierdie boek ‘n aanwins vir elke huisbiblioteek waar jong kinders hulle bevind. Perfek vir voorlees en selflees en ‘n moet vir elke storieliefhebber.

CreatedAt
7/24/2017 8:26:23 PM
UpdatedAt
7/24/2017 8:26:23 PM

Back to List