PUKU Logo

PUKU

Children's Literature in Southern Africa

Vlerke vir Almal

Vlerke vir Almal deur Marion Erskine wat pas by Human & Rousseau verskyn het, was Graffiti Boeke se algehele topverkoper in Junie 2017. Die kunstige skoenlappermotief op die voorblad, deur Nadine Kriel, trek dadelik die aandag. Na die lees en herlees van Vlerke vir Almal, kan ek die voornemende lesers gerusstel – takseer gerus hierdie boek op sy baadjie - topverkoper inderdaad!

In Vlerke vir Almal, skryf Erskine met groot omsigtigheid en empatie oor die sewentienjarige Dewald Myburgh wat kort voor Kersfees deur ‘n baie traumatiese ervaring gaan. Die grootmense om hom besluit dat hy vir sy eie beswil vir graad elf na ‘n nuwe skool moet skuif. Behalwe vir die ‘platgetrapte paddagroen skoolklere’ waaraan hy gewoond moet raak en die gewone komplikasies wat so ‘n verandering na ‘n nuwe skool meebring, worstel hy met ‘n spraakgebrek wat na die trauma ontwikkel het en hy kruis sommer op die eerste dag al swaarde met die skool se vreesaanjaende, rots-van-'n-meisiekind-boelie!

Dié tienerroman word aan Amanda Todd opgedra – die Kanadese tiener wat in 2012 selfdood gepleeg het nadat sy aanlyn geboelie is. Die kernboodskap in Vlerke vir Almal is die vernietigende rol wat boelies in ‘n mens se lewe kan speel, maar ander aktuele temas kom ook in die verhaal na vore, soos selfdood, homoseksualiteit, vriendskappe en die magtige rol wat tegnologie in die samelewing speel.

Die roman as geheel is ‘n geslaagde en realistiese uitbeelding van temas waarmee tieners op daaglikse basis gekonfronteer word. Erskine weef ‘n innige, hartroerende verhaal wat nuwe hoop bring aan almal wat al aan die vernietigende effek van boelies blootgestel was.

Die skoenlappermotief, waaraan die titel ontleen word, bied ‘n besonder kreatiewe benadering om moeilike, moedelose situasies te besweer. Dewald en sy nuwe maats by die skool besluit om ’n ondersteuningsnetwerk te skep om die slagoffers van boelies by te staan. Die magiese skoenlappermotief word uiteindelik ‘n kenmerk van ‘n wêreldwye beweging wat ‘n sterk simboliese boodskap van hulp uitdra. Dit word verwoord in die mantra: "as almal saam staan, kan die gedrag en optrede van boelies in die kiem gesmoor word".

Hoewel die boek op die tienermark gerig is, kan enigeen baat vind by die lees hiervan. Dit kan aan die spreekwoordelike vlerkloses onder ons die nodige waagmoed gee om onsself na waarde te skat en ten volle te leef.

In ‘n Litnet resensie skryf Dewald Koen: “Vlerke vir almal is een van daardie jeugromans wat nie slegs deur tieners gelees moet (en sal) word nie. Almal moet dit lees. Veral ouers van tieners en onderwysers, móét hierdie roman lees. Vir té lank is boelies in die samelewing geduld. Te veel onderwysers het dekades lank die tendens in klaskamers en op speelgronde geïgnoreer. As oud-onderwyser hoop ek dat hierdie jeugroman in soveel moontlik tieners se hande sal beland. Elke skoolbiblioteek moet ’n kopie aankoop en hopelik word dit by skole voorgeskryf. Vlerke vir Almal is onontbeerlike leesstof vir alle tieners”.

CreatedAt
7/19/2017 1:21:23 PM
UpdatedAt
7/19/2017 1:21:23 PM

Back to List