PUKU Logo

PUKU

Children's Literature in Southern Africa

Groen Vingers

In Groen Vingers maak ons kennis met ‘n jong leerder, Sasha, wat gek is oor die natuurwetenskappe en veral om eksperimente te doen.

Sasha se oupa was ‘n wêreldbekende wetenskaplike, vandaar haar vurige belangstelling in die wetenskappe. Sy het nooit haar oupa geken nie, maar voel baie na aan hom wanneer sy tyd in die solder deurbring waar sy op sy trommel afgekom het. Dié trommel voel vir haar soos ‘n regte skatkis. Dis baie deurmekaar en vol ou stowwerige proefbuise, flesse, notaboeke en selfs ‘n album met ou geelbruin foto’s wat al die belangrike gebeurtenisse in sy beroemde lewe dokumenteer.

Op ‘n dag waarop sy in groot moeilikheid by die skool is omdat sy op haar eie ‘n eksperiment in die laboratorium doen, soek sy weer vertroosting op die solder tussen haar oupa se goed. Sy kom af op ‘n paar bruin, uitgedroogde sade in die trommel .... en dis net daar waar die groot moeilikheid begin!

Niemand sou al die skreeusnaakse en ongelooflike katastrofes kon voorsien wat plaasvind as Sasha dié bruin sade in plaas van boontjies in klam wattetjies inlê wanneer almal in die klas hierdie eenvoudige eksperiment moet doen nie.

Jaco Jacobs kan nou maar eenmaal met woorde toor en sy gemaklike skryfstyl maak him uiters gewild onder jong lesers. Saam met Odine Barendse se pikante, volkleurillustrasies waarborg dit 'n wonderlike leesavontuur wat moeilik neergesit sal word voor die laaste bladsy!

CreatedAt
5/18/2017 8:56:36 AM
UpdatedAt
5/18/2017 8:56:36 AM

Back to List