PUKU Logo

PUKU

Children's Literature in Southern Africa

Moenie hierdie boek eet nie

Wat ‘n fees van ‘n bundel! 366 rympies, een vir elke dag van die jaar, plus ‘n bonus een vir skrikkeljaar. Jaco Jacobs toor behoorlik met woorde. Moenie Hierdie Boek Eet Nie is 'n kragtoer waarvan hierdie resensent nog nie die gelyke teëgekom het nie.

Jacobs het reeds met vorige rympieboeke o.a. die Alba Bouwer-prys en C.P. Hoogenhout-medalje gewen en ek dink ‘n mens kan met redelike sekerheid verwag dat Moenie Hierdie Boek Eet Nie ook ‘n prys moet losslaan.

Daar is te kies en te keur van lawwe limerieke, heerlike haikoes en tawwe tongknopers oor elke denkbare onderwerp onder die son. Die rympies spreek onderwerpe aan wat oud en jonk sal amuseer en vir ure sal besig hou.

Zinelda McDonald se koddige, in-die-kol-illustrasies maak die lees en kyk net nog lekkerder.

‘n Mens wil saampraat met 'n resensent wat sê: “n Rympie vir elke dag van die jaar, en voorwaar, dit is nié swaar om elke dag se nuwe rympie te gewaar... Ek wens ek was nog kind. Dan sou ek kon hoop om dié boek in my Kerskous te vind!”

Mag hierdie boek vir elke kind in Suid-Afrika beskore wees.

CreatedAt
5/16/2017 6:57:59 AM
UpdatedAt
5/16/2017 6:57:59 AM

Back to List