PUKU Logo

PUKU

Children's Literature in Southern Africa

Trompie Omnibus 5

Dis moeilik om te glo dat die eerste Trompie-verhaal reeds in 1950 uit die pen van Topsy Smith verskyn het. ‘n Mens kan nie anders as om die langslewendheid van die stories te bewonder nie. Lesers, oud en jonk, word steeds bekoor deur die avonture van ‘Grootkaptein’ Trompie Toerien en die Boksombende wat Kwaggaberg, ‘n klein rustige dorpie, soms behoorlik op horings neem.

Dit was ‘n uitstekende idee van Human & Rousseau om die immergewilde reeks Trompie-boeke in ‘n nuwe baadjie te laat herleef. Die eerste heruitgawes het reeds in 1970 verskyn, bykans twintig jaar na die eerste publikasie! Die heel nuutste uitgawes, tans in sagteband beskikbaar met byderwetse volkleur omslagontwerpe, trek die aandag op boekwinkels en biblioteke se rakke.

In 2008 is daar ‘n televisiereeks gemaak en die temalied, Trompie en die Boksombende, spesiaal deur Anton Goosen geskryf en uitgevoer vir die reeks, was gou op almal se lippe!

In 2013 kom Human & Rousseau vorendag met die eerste omnibus-formaat, wat elk drie van die oorspronklike Trompie-stories bevat. Die eerste omnibus was so gewild en in aanvraag dat daar voortgegaan is met opvolg-publikasies. Die nuutste hiervan is Omnibus 5.

In Trompie die Vegter moet die Boksombende se ‘Grootkaptein’ ‘n boelie op sy plek sit. In Trompie die krieketspeler moet Trompie al sy sjarme en diplomasie inspan om ‘n suinige ryk outjie te oortuig om sy krieketkolf vir hom te leen en in Trompie die Filmster is Kwaggaberg in rep en roer wanneer tonele vir ‘n Afrikaanse rolprent daar geskiet word. Heerlike ontspanningsleesstof!

Alhoewel sekere kontekste in die boek vir vandag se tieners verouderd en selfs vreemd mag voorkom, sal die goeie storielyn en gemaklike skryfstyl nog steeds genot verskaf en ‘n liefde vir lees kweek. Terugvoer van die uitgewer en winkels bevestig dat hierdie boeke van die rakke af vlieg en selfs beter verkoop as talle moderne jeugboeke. Daar is ‘n goeie rede waarom Topsy Smith (1914–1985) steeds gereken word as een van die suksesvolste jeugboekskrywers van ons tyd. ‘n Aanwins vir enige tiener se boekrak.

CreatedAt
5/9/2017 4:48:17 PM
UpdatedAt
5/9/2017 4:48:17 PM

Back to List