PUKU Logo

PUKU

Children's Literature in Southern Africa

Soogdiere

Dorling Kindersley is ‘n wêreldleier op die gebied van nie-fiksie vir kinders. Die EyeWonder-reeks bevat verstommende foto’s en maklik verstaanbare teks wat die onderwerp selfs vir jong kinders toeganklik maak.

Faan Herholdt het Mammals vir Lapa Uitgewers, in samewerking met Dorling Kindersley, vertaal en dié pragtige uitgawe, Soogdiere, het in Maart 2016 op die rak verskyn. Die vertaling is uitstekend gedoen en dit sorg vir ‘n lieflike, omvattende naslaanboek vir Afrikaanssprekende kinders in hul eie taal met glansafwerking op die buiteblad.

Dis ongelooflik om te lees dat daar meer as 5,000 soogdierspesies op aarde is en dat die mens een van hulle is! Die meeste soogdiere se kleintjies groei binne-in hul ma se maag, sommige buideldiere word onderontwikkeld gebore en groei verder in ‘n sakkie (bv. kangaroes), en ‘n paar van die kleinste diere (krimpvarkies) lê eiers waaruit die kleintjies kom.

Benewens die asemrowende foto’s en beskrywings van die diere is daar ook ‘n afdeling wat aan bedreigde spesies gewy word. Daar is interessante speletjies om kennis te toets en waarnemingsvermoëns te ontwikkel, bv. Wie is Ek?

Woordkennis word uitgebrei met ‘n Woordelys, ‘n Diere-Alfabet en ‘n Indeks vir maklike en vinnige naslaanwerk.

Hierdie boek is ‘n goeie kopie teen ‘n baie redelike prys. Hoewel die boek in sagteband uitgegee is, is dit stewig gebind en sal waarskynlik aan meer as een lesertjie ure se leesgenot kan verskaf.

CreatedAt
4/20/2017 12:13:59 PM
UpdatedAt
4/20/2017 12:13:59 PM

Back to List