PUKU Logo

PUKU

Children's Literature in Southern Africa

PUKU se onderhoud met Alan Glass, skrywer van Oliver se Omlyning

Alan Glass lyk entoesiasties maar moeg. Dis duidelik dat hy reeds ‘n besige oggend agter die rug het. Met ‘n kitaar oor een skouer geslinger drentel hy in gedagte by ons verby terwyl hy gretig die verrigtinge om hom inneem.

Die Rene England Ouditorium (St John’s College, Houghton) is tydens ons onderhoud ook die bymekaarkomplek vir die jaarlikse LIASA konferensie vir bibliotekarisse en die atmosfeer is gevul met letters, woorde en boeke. Vir my persoonlik, die beste atmosfeer ooit!

Ons glimlag inkennig as die twee van ons uitgewys word deur die verteenwoordigers by die PanMacMillan tafel en Alan stap verskonend terug om met ons kennis te maak.

Hy was vroeër die oggend in Pretoria by die Uniegebou waar hy opgetree het tydens die 67 Komberse vir Nelson Mandela veldtog. Gretig en passievol wys hy sy selfoonfotos vir ons. Dit is duidelik dat Alan Glass ‘n mense mens is wat glo dat elkeen, maar veral kinders, op gelyke wyse en met die nodige gereedskap ‘n beurt moet kry om die lewe aan te pak.

Kollega Nikki McDiarmid vertel hoe sy Beautiful Creatures musiek nog steeds ‘n gunsteling by haar elfjarige seun is. Die drie musiek DVD’s is in 2004 gepubliseer en was vinnig ‘n gunsteling by veral kleuter-en Maria Montessori skole. Drie vriende (Paul Choritz, Ed Jordan en Alan Glass) het hul onderskeie talente saamgegooi om dié kindervriendelike, ouervriendelike musiekreeks te vervaardig. ‘Mafutha the Elephant’, ‘Imvubu the Happiest Hippo’ en ‘Lucas the Lazy Lion’ is hoogs aangeskryf en het al verskeie toekennings ontvang vir die opvoedkundige en omgewingsvriendelike boodskap wat aan kinders (en hul ouers) uitgedra word.

Alan is trots op Beautiful Creatures en vertel hoe hy en sy twee kollegas geweier het om enigiets behalwe hul beste te lewer vir die projek. Die boek is opgevoer in die teater en het die Naledi toekenning gekry vir ‘Beste produksie van ‘n Opvoering of Musiekblyspel vir Kinders’ (2010). Die DVD het ook silwer platinum status bereik vir verkope. “Die reeks is gemaak toe beide ek en my suster al klein kinders gehad het. Ek het in die oomblik geleef en het baie inspirasie van die kleingoed gekry.”

Oliver se OmlyningOns praat oor Alan se nuutste kinderboek, Oliver se omlyning. Hy vertel dat hy al lank met die konsep van Oliver worstel omdat hy as kind self gesukkel het om te verstaan hoe en waar hy nou eintlik inpas in die wêreld. Die aanmerking van ‘n klein lesertjie wat Oliver beskryf het as die seuntjie wat ‘verdwyn en dan weer terugkom’ was vir die skrywer ‘n riem onder die hart, want dit is presies die boodskap wat hy wou uitdra: werk hard om jouself te leer ken sodat jy jou plek en doel in die lewe kan bepaal. Volgens Alan gaan daar moontlik ‘n tweede Oliver verskyn n.a.v. die sukses van die eerste publikasie.

Ek groet Alan Glass met groot respek vir sy onuitputlike passie en energie vir die kinderwêreld, nes Oliver het hy sy omlyning raakgesien!

[Resensie van Oliver se Omlyning][2) Madelein du Toit