-
Maak Leestyd Lekke Met NB Jongklomp!
Hoe maak jy jou kind lus en lief vir lees? Hier is ‘n paar wenke:Lees daagliks vir jou kind ‘n storie
Navorsing bewys dat hoe meer ‘n kind kan luister na iemand wat vlot hardop lees, hoe beter. Dit verbreed hul kennis van die wêreld, brei hul woordeskat uit, maak hulle vertroud met geskrewe taal (‘boektaal’) en kweek van kleins af ‘n belangstelling in boeke.
Begin deur elke dag vir jou kind te lees, selfs vandat hy of sy nog ‘n baba is. 20-30 minute voor slaaptyd is ideaal – julle kan dan sommer ‘n bietjie kwaliteit tyd saam spandeer as ‘n familie.
Hou daarmee aan, selfs al is jou kinders al op skool. Wanneer hulle leer hoe om self te lees, lees steeds vir hulle voor, maar moedig hulle ook aan om op hulle beurt vir jou voor te lees. Help hulle om moeilike woorde uit te klank en laat hulle dieselfde sin ‘n paar keer hardop lees, totdat hulle dit baasraak.Onthou: Stres en kommer kan ‘n kind se vermoë om te leer benadeel, so maak seker leestyd is pret. Kinders wat op skool sukkel, baat baie by leessessies saam met volwassenes tuis, waar die omgewing vriendelik en ondersteunend is.
Maak leestyd pret
Maak seker leestyd is lekker. Maak die karakters se stemme na wanneer jy die storie voorlees. Boots die geluide na of moedig jou kind aan om dit saam met jou te doen. Wys na die prentjies op die bladsy en vra vrae daaroor (al is dit hoe eenvoudig), om jou kind aan te moedig om deel te neem en betrokke te raak. Vra jou kind wat hy of sy dink volgende gaan gebeur, voordat jy na die volgende bladsy blaai.
Jonger kinders sal interaktiewe boeke geniet – boeke met klankknoppies, voel-en-vat bladsye, skoonvee-bladsye met penne en magnete, of enige soort speelding. So leer kinders dat boeke ook vermaaklik kan wees.
Wanneer kinders self leer lees en skryf, sal hulle ook aktiwiteitboeke geniet. Kies aktiwiteitboeke wat beide prettig en opvoedkundig is, met speletjies en aktiwiteite wat kinders sal geniet om te voltooi, maar hulle terselfdertyd ook iets leer en help om sekere vaardighede te oefen. Doen die aktiwiteite saam met jou kind.









